Ekonomiese onsekerheid in SA: Hoe om jou finansiële toekoms te beskerm

Suid-Afrikaners is nou al baie goed daarmee om aan te pas. As rentekoerse styg, pas ons aan. Wanneer kos- en brandstofpryse verhoog, pas ons aan. Verswak die rand, dan pas ons aan. As groei teleurstellend is, die werkloosheidsyfer hoog bly en die politiek onstuimig raak, dan pas ons weer aan. Maar daar is ’n gevaar daaraan as ’n mens té goed raak met aanpassing. Op die een of ander stadium hou huishoudings dan op om te beplan en begin bloot net oorleef. Hulle vertraag besluite, gebruik spaargeld, kanselleer versekering, gaan duur skuld aan, of laat hul finansiële toekoms aan die toeval oor. Hulle maak staat op wat ook al oor is aan die einde van die maand. Dít is nie finansiële beplanning nie; dit is eerder finansiële drywing.

Suid-Afrika (SA) se ekonomie is nie in ’n hopelose situasie nie, maar dit is ook nie sterk genoeg om huishoudings te dra wat finansieel onvoorbereid is nie. Onlangse groei was matig en inflasie is relatief onder beheer, alhoewel dit steeds kwesbaar bly vir brandstof- en ander prysskokke. Werkloosheid bly ook steeds een van ons land se diepste strukturele wonde. Met ander woorde, die makroprentjie is nie een van ineenstorting nie, maar daar is ook nie genoeg speling vir gewone families om foute te maak nie. Dit is waarom die ware finansiële vraag besig is om te verander. Dit gaan nie meer oor wátter belegging die beste opbrengs sal lewer nie. Die vraag is nou: “Is my finansiële lewe sterk genoeg om onsekerheid te weerstaan en steeds vorentoe te beweeg?”

Dit is hier waar finansiële welstand meer as net ’n slagspreuk word. Dit dien as ’n raamwerk om veerkragtigheid te bou in ’n land waar onsekerheid deel van die operasionele omgewing is. Finansiële welstand vir elke een beteken om individue en huishoudings te help om ’n lewe te bou wat gekenmerk word deur beter beplanning, beter beskerming en beter posisionering vir langtermyngroei.

Die eerste vlak is finansiële grondslae. Voordat ’n huishouding aan sy welvaart kan bou, moet dit eers beheer ontwikkel. Dit beteken om kontantvloei te verstaan, slegte skuld te verminder, ’n noodbuffer te skep, akkurate finansiële rekords te hou, begunstigdes te hersien en te verseker dat maandelikse besluite met langtermynprioriteite belyn is. In ’n swak ekonomie is die huishoudings wat die meeste sukkel dikwels nie net dié wat ’n te klein inkomste verdien nie, maar ook daardie met te min struktuur rondom die inkomste wat hulle wel het.

Die tweede vlak is inkomstebeskerming. Meeste mense se grootste bate is nie hul aftreefonds, huis of beleggingsportefeulje nie. Dit is hul vermoë om ’n inkomste te verdien oor die volgende 10, 20 of 30 jaar. Tog beskerm baie mense hul selfone, voertuie en huishoudelike toestelle beter as wat hulle die inkomste wat vir dit alles betaal, beskerm. Ongeskiktheidsdekking, ernstigesiektedekking, lewensdekking, vaardigheidsontwikkeling en loopbaanveerkragtigheid is nie kantlynkwessies nie. Dit is sentraal tot finansiële oorlewing.

Die derde vlak is welvaartskepping. Mense neem dikwels emosionele besluite wanneer dinge onseker is. Sommiges raak oorversigtig en sit permanent in kontant. Ander raak desperaat en jaag vinnige opbrengste na. Nie een van dié twee benaderings bou volhoubare welvaart nie. Langtermynbelegging en diversifikasie is steeds belangrik. So ook aftredebeplanning en belastingdoeltreffendheid. Die punt is nie om onsekerheid te ignoreer nie, maar om dit deur te sien met gedissiplineerde beleggings.

Die vierde vlak is welvaartbeskerming. Dit sluit korttermynversekering, boedelbeplanning, testamente, likwiditeitsbeplanning en eienaarskapstrukture in. Dit verseker ook dat jou gesin versorg sal wees sou iets skeefloop. Welvaart word nie werklik geskep as dit kan verdwyn weens een onversekerde gebeurtenis, een wetlike skuiwergat of een swakbeplande boedel nie.

Ekonomiese onsekerheid is ’n realiteit. Suid-Afrikaners kan nie wêreldoliepryse, die rand, rentekoerse, politieke besluite of ekonomiese groei beheer nie. Maar ons kan die gehalte van ons finansiële beplanning beheer. Die huishoudings wat onsekerheid die beste gaan hanteer is nie noodwendig die rykstes nie. Dit is die huishoudings met die sterkste grondslae, wie se inkomste die beste beskerm is, en wat die mees gedissiplineerde strategie vir welvaartskepping en die duidelikste plan het om dít wat hulle gebou het, te beskerm. In SA is finansiële welstand nie ’n luukse nie. Dit is hoe ons onsekerheid verander vanaf ’n permanente bedreiging tot iets wat ons gereed is om te trotseer.