Dawie Roodt: Só moet jy oor die wisselkoers dink

Netwerk 24: Sakesiening

 

Ons moet nou maar daarmee vrede maak: Ons geldeenheid, die rand, is besonder wisselvallig soos wat ons weer die afgelope week of twee gesien het. Dit skep baie probleme, insluitende vir die Reserwebank, wat altyd ’n ogie oor die wisselkoers van die rand hou – al ontken hulle dit. Maar ’n wisselvallige (moet asseblief nie die aaklige Anglisisme volatiel gebruik nie!) geldeenheid skep veral hoofbrekens aan twee groepe mense: diegene wat in- en uitvoer (wat toerisme insluit) en diegene wat hul beleggings landuit wil neem – en ja, die meeste mense wil geld landuit neem.

Wat gereeld gebeur, is dat mense, byvoorbeeld, halsoorkop geld die land uitneem juis wanneer hulle nie moet nie, naamlik wanneer die rand reeds verswak het, en weer geld “terugbring” wanneer die rand versterk het.

So hoe weet ’n mens wanneer dit die “regte” tyd is om jou rand na dollars, of andersom, om te skakel? Hier is ’n paar riglyne. Die eerste waarheid waarmee vrede gemaak moet word, is dat jy nie weet wanneer die rand wisselkoers by ’n “draaipunt” is nie. Vergeet dit om op ’n hoogtepunt (of laagtepunt) jou wisseltransaksie te doen – niemand weet waar hierdie draaipunt is nie. Die beste wat jy kan doen, is om ongeveer reg te wees.

Ons het ’n model ontwikkel deur ’n gemiddelde vlak van die rand te bereken oor tyd soos gemeet aan koopkragpariteitswaardes (soos die Big Mac-indeks). Die model word maandeliks bygewerk en het homself mettertyd al as (rofweg) waardevol bewys.

Die meeste waarde aan die model is dat dit die emosies uit besluite neem, veral wanneer ons almal in sak en as sit wanneer die rand skerp verswak weens die een of ander onbesonne besluit van die regering. Dink maar aan die Nene-debakel (in 2015, toe oudpres. Jacob Zuma Nhlanhla Nene oornag as minister van finansies afgedank het en hom met die onbekende Des van Rooyen vervang het).

’n Model soos dié kan wel waardevol wees as ’n maklike manier om te sien of die rand “te sterk” of “te swak” is, wat natuurlik deur verskillende goed beïnvloed kan word – en daar is baie redes. Redes vir die rand se skommelinge sluit in basiese ekonomiese groothede soos stygende hulpbronpryse (wat goed is vir die rand) of strammer monetêre beleid in die VSA (wat sleg is vir die rand). Daar is natuurlik baie ander redes ook, maar basies kan ’n mens al die “redes” waarom die rand verswak (versterk) groepeer as óf “risiko aan” (risk on) óf “risiko af” (risk off). Dis maar net ’n manier om te sê dat markdeelnemers se aptyt vir risiko besig is om toe te neem (dan versterk die rand gewoonlik) of af te neem (wanneer die rand gewoonlik verswak). Risiko aan, en risiko af, word weer deur ’n hele klomp goed bepaal.

Byvoorbeeld, indien hulpbronpryse styg weens ’n sterker internasionale ekonomie, dan verstewig die rand gewoonlik. Of indien kanse verhoog dat die Amerikaners monetêre beleid binnekort strammer gaan maak (soos deur rentekoerse te verhoog), is dit gewoonlik sleg vir sentiment en siedaar, die rand verswak.

Plaaslike gebeure, soos dat die president eendag sy ruggraat ontdek, kan ook oorspoel na “risiko aan”. Maar dank nou net die president van die Reserwebank af en sien hoe die rand verswak! Dit alles help, maar is daar ander maniere om jou te help met jou besluit? Jip, daar is, maar dit hang af wie jy is en wat jou tydshorison is. ’n Veilige aanname om te maak, is dat die rand mettertyd sal verswak. Daar is goeie basiese redes daarvoor. Dus, indien tyd nie ’n faktor is nie, vergeet van die wisselkoers en ruil jou rande om vir dollars (of ander “harde” geldeenhede).

Nog iets wat tipies van die rand is, is dat dit skielik baie skerp kan verswak, maar meer geleidelik versterk. Dus, “risiko aan” lei gewoonlik tot ’n geleidelike versterking van die rand, terwyl “risiko af” tot die skielike verswakking van die rand kan lei. Nietemin, indien jou bedoeling is om geld in die buiteland te belê, is die beste benadering om ’n baie swak rand te vermy en ’n bietjie te wag voordat jy jou besluit neem. Dis hier waar ’n mens versigtig met jou emosies moet wees. Gewoonlik storm almal vir die deur ten tye van slegte nuus, of almal wil rand hê ten tye goeie nuus.

Gaan teen die stroom. Dink met jou kop en nie jou hart nie.

Hou ook in gedagte selfs al neem jy geld teen ’n ongunstige wisselkoers landuit, kan jy jouself gedeeltelik verskans deur in die regte buitelandse bates te belê. Byvoorbeeld, indien jy jou rande uitneem teen ’n “te swak” rand en jy dit in internasionale aandele belê, kan “risiko-aan”-faktore daartoe lei dat die rand versterk, wat jou in ’n slegter posisie kan laat. Maar, indien jy in internasionale aandele belê het, behoort “risiko-aan”-faktore ook die waarde van so ’n portefeulje te laat styg. Dus, wat jy op die wisselkoers verloor, kan jy op jou belegging wen. Indien die wisselkoers vir jou belangrik is omdat jy ’n in- of uitvoerder is, is daar ander probleme wat meestal van korttermynaard is.

Maatskappye in die in- of uitvoerbedryf moet gewoonlik maandeliks aan hul bestuur verslag doen. Indien die wisselkoers ten gunste van ’n maatskappy beweeg in ’n spesifieke maand, dan lyk die finansiële direkteur soos ’n held, maar indien die wisselkoers “teen” jou beweeg, lyk hy weer soos ’n nar. Daarom maak baie besighede van termyndekking – ’n soort wisselkoersversekering – gebruik om die onsekerheid van die wisselkoers te vermy.

Die probleem is dat termyndekking geld kos. Na gelang van elke onderneming se eie behoeftes en risiko’s behoort die algemene reël te wees om nie te verskans nie, want dit gaan jou later waarskynlik meer kos indien jy wel verskans – maar ondernemings verskil!

 Dus opsommend:

  • Die rand verswak oor
  • Die rand verswak gewoonlik vinniger as wat dit versterk.
  • Niemand weet waar en wanneer die “draaipunt” van die wisselkoers is nie.
  • Probeer jouself te beskerm deur die regte buitelandse beleggings te maak.
  • Na gelang van omstandighede, probeer om nie te verskans
  • En laastens, sorg dat jy geld in die buiteland

 

* Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Ecient Group.